A Christmas Carol (1843), Charles Dickens
Mens dink dalk nie aan Ebenezer Scrooge as 'n tydreisiger nie, maar dit is presies wat in A Christmas Carol met hom gebeur. Hy word deur spoke deur die tyd gelei en besoek sy verlede sowel as sy toekoms.
A Connecticut Yankee in King Arthur's Court (1889), Mark Twain
In hierdie boek kry die hoofkarakter, Hank Morgan, 'n man van Hartfort, Connecticut 'n hou oor die kop met 'n koevoet en toe hy weer tot sy sinne kom, bevind hy hom in Camelot. Dit is een van die eerste romane wat die idee gebruik van 'n karakter uit die toekoms wat sy kennis van die wêreld en tegnologie aan 'n beskawing uit die verlede oordra.
The Time Machine (1895), H.G. Wells
H.G. Wells was nie die eerste outeur wat met die idee van 'n tydmasjien om deur tyd mee te reis vorendag gekom het nie. Enrique Gaspar y Rimbau het dit eerste gebruik in El Anacronopete (1887). Die rede hoekom mens dink Wells het dit eerste gebruik, is dat hy dit só gebruik dat dit mense se verbeelding aangegryp het. In sy tydmasjien kon die karakters doelgerig deur tyd reis, m.a.w. hulle kon kies na watter tyd toe hulle wou gaan en dit is wat hierdie boek so (letterlik) tydloos maak.
By His Bootstraps (1941), Robert A. Heinlein
Hierdie kortverhaal het in die Oktober 1941 uitgawe van 'n wetenskapfiksie tydskrif Astounding Science Fiction verskyn. Die hoofkarakter, Bob, ontmoet 'n man genaamd Joe. Joe beweer hy is van die toekoms en dat hy 'n "tydhek" gebruik het om na die jaar 1941 toe te reis. Bob gaan deur die tydhek en dit vat hom dertig duisend jaar in die toekoms in.
Slaughterhouse Five (1972), Kurt Vonnegut
'n Satiriese verhaal oor die Tweede Wêreldoorlog, waarin Billy Pilgrim, 'n Amerikaanse soldaat, "loskom" van tyd. Dit lei daartoe dat hy gebeure in sy lewe in die verkeerde volgorde en soms meer as een keer beleef.
Outlander (1991), Diana Gabaldon
'n Reeks wetenskapfiksie-romanses waarin die heldin, Claire, van die jaar 1945 na die agtiende eeu toe reis, deur middel van geheimsinnige staande klippe - soort van 'n Stonehenge - op 'n heuwel in Skotland. Sy verpleeg 'n jong man in die verlede en raak verlief op hom.
Harry Potter and the Prisoner of Azkaban (1999), J.K. Rowling
Om eerlik te wees, kan ek hierdie stories nie meer aankyk nie, maar die idee van tydreise speel 'n groot rol in die storielyn van hierdie vervolg van Harry Potter. Hermoine kry 'n "tyd draaier" waarmee sy tyd kan herhaal. Op dié manier kan sy ekstra dosisse skoolwerk inneem. Die woord nerd het by my opgekom terwyl ek dit gelees het ... Op die ou einde gebruik sy, Harry en Ron natuurlik die tyd draaier om 'n onskuldige man te red.
The Time Traveler's Wife (2003), Audrey Niffenegger
In hierdie storie het die hoofkarakter, Henry DeTamble, 'n genetiese afwyking genaamd "Chrono Displacement" wat maak dat hy deur tyd kan reis. Hy het egter geen beheer oor na watter tyd toe hy reis of hoe lank hy daar sal bly nie.
How to Live Safely in a Science Fictional Universe (2010), Charles Yu
In hierdie boek is die protagonis die outeur self, Charles Yu. Hy is 'n masjinis wat in sy eie tydmasjien bly. Yu slaan soort van bollemakiesie deur tyd nadat hy sy toekomstige self doodskiet. Hy probeer sy selfopgelegde Noodlot met nog meer tydreise ontsnap. Dit gaan daaroor dat mens jouself netsowel kan skiet, want jy gaan in elk geval sterf. Vir hom gaan mens se hele lewe daaroor dat jy gedurig terugdiens, wegdeins en die oomblik van jou dood probeer ontwyk terwyl jy weet dit moet kom - een of ander tyd. Nie 'n boek om te lees as jy tot depressie neig nie.
11/22/63 (2011), Stephen King
'n Onderwyser, Jake Epping, se vriend, Al, het 'n "poort" in die stoorkamer van sy restaurant wat na die jaar 1958 toe lei. Hy stuur Jake soontoe om die moord op president John F. Kennedy te probeer verhinder.
Keine Kommentare:
Kommentar veröffentlichen